Pelgrimsreise... Nodig of Oorbodig?
Duisende Christene gaan jaarliks op reise, toere en pelgrimstogte na lande van die Bybel.
Waaroor gaan dit nou eintlik en wat ervaar gelowiges tydens hierdie reise? Is dit die geld werd?
So kom ons kyk bietjie na Pelgrim wees. Blog saam en oordeel gerus self...
Jesus was gedurende sy leeftyd op aarde slegs 'n paar keer in Jerusalem – elke keer as pelgrim om een van die Joodse feeste by te woon. Psalm 84 – die Pelgrimslied – gaan juis oor die voorspoed en geluk wat pelgrimsgangers te wagte kan wees. So het die eerste gelowiges ook gereeld na Jerusalem op ‘n pelgrimstog gegaan. Na afloop van Paulus se derde sendingreis was hy so angstig om na Jerusalem en die Tempel te gaan dat niks hom kon stuit nie - nie eens 'n profesie oor sy lot daar nie (Hand 21:10-14). Volgens teoloog en pelgrimstogleier Theo Geyser was die doel van dié pelgrimstogte van vroëe Christene om simbolies te identifiseer met Jerusalem as plek van konfrontasie, lyding en ook oorwinning.
Maar iets gebeur tog met mense wat hierdie eeu-oue beginsel opneem. Daar kom ontmoetings en gewaarwordings. Kreatiwiteit neem toe en mense kom vertel lewensveranderde stories. Ek glo pelgrimstyd is afspraaktyd. ‘n Tyd vir nuut word en nuut dink.
Ons eerste keuse as dit by Pelgrimsreise kom:
Israel
Beloofde Land, aldus Heilige land, aldus Israel
Die verbond wat God met Abraham gesluit het is van uiterste belang – selfs vandag nog – omdat dit die basis is waarvolgens die Jode hul land eis, en ons Christengeloof se wortels lê in hiérdie stuk aarde. Die ‘Heilige Land’ strek vanaf die Egiptiese grens tot by Sirië en vanaf die Mediterreense kus tot by die Oostelike kant van die Jordaan Vallei en die Dooie See.
Hoe beskryf jy die atmosfeer in die Tuin van Getsémané waar olyfbome uit Jesus se tyd stil getuies is van gebeure wat 2000 jr. gelede hier afgespeel het. Jy kan nie anders as om Jesus te hoor bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan...” En jy besef dat geen angs of vrees wat jy al ooit ervaar het naby hierdie groot offer kan kom nie.
volgende blog: Jordanië... Hou die spasie dop!