Wednesday, June 5, 2013

Welkom

Ons gesels oor Pelgrim wees... die Camino de
Santiago asook toere na Israel en ander Bybellande.
Op hierdie blog plaas ons inligting oor Camino stap opsies, Bybelland toere, ons toerleiers, interessante inligting oor besoekpunte en gesels sommer in die algemeen oor reis met n doel! Sommige van die artikels is in argief formaat. Gaan dus aan die linkerkant na die “Blog Archive” om vorige bydraes te sien.
Ons gee ook maandeliks ‘n nuusbrief met nuttige toerinligting uit. Indien jy hierdie nuusbriewe wil ontvang, stuur asb ‘n e-pos aan my by yolandi@tibtours.co.za of skryf in op ons webwerf.

Indien jy aktief op FACEBOOK is:
Gaan na "Vellies na die Vreemde": https://www.facebook.com/Stap-die-Camino-Vellies-na-die-Vreemde-416475381882828/ Volg ons en bly op hoogte!

Gaan ook na ons webwerf: www.tibtours.co.za vir volledige inligting oor opkomende toere.

Geniet die beplanningsfase van jou reis !
Yolandi van der Wath     


Saturday, March 23, 2013

Camino stap 2016


Camino de Santiago Begeleide Pelgrimstap
Franse roete 115 km vanaf Sarria tot by Santiago de Compostela
18 - 26 Julie 2016
Ons stap weer in Julie hierdie gewilde roete, so kom saam met ons as jy kan - hetsy alleen of saam met 'n mede pelgrim teen jou eie tempo en met jou eie gedagtes...
Om saam met ons te stap het jy die gemoedsrus dat jy aan die einde van elke dag se stap saam met ons groep kan uitspan by 'n uitsoek hotelletjie met 'n lekker bord kos en skoon bed wat op jou wag!
Lees meer oor hierdie opwindende vooruitsig op ons webwerf: http://tibtours.co.za/ 


Sunday, January 13, 2013

Paulus se Reise - toer 2013 Hoogtepunte

Ons volg Paulus se reise na Griekeland en Turkye
Saam met Dr. Koos v.d. Merwe
5 – 17 September 2013
13 Dae - 12 Nagte
Vir volledige Reisplan stuur 'n e-pos na info@tibtours.co.za of gaan loer op ons webwerf: www.tibtours.co.za
Hier volg die hoogtepunte van die toer kortliks:

Ons vertrek Donderdag 5 September met die Turkse Lugredery “Turkish Airlines” vanaf OR Thambo Internasionale lughawe.
Met aankoms by Istanbul Internasionale lughawe word ons groep ingewag deur ons plaaslike gids en luukse toerbus. Besoeke vandag en more in Istanbul sluit in:

1.      Die manjifieke Sultan Ahmet Moskee, ook bekend as die Blou Moskee
2.      Die St Sophia Basilika of die Hagia Sophia, soos die basilika algemeen bekend staan.
3.      Die ‘Grand Bazaar’ (onderdak inkopie mark) met sowat 4,500 winkels, 2 200 werkswinkels  en 490 stalletjies.
4.      Die Topkapi Paleis – tuiste van menige Ottomaan Sultans.

Die volgende paar dae reis ons per luukse toerbus vanaf Kavala in Noord Griekeland, deur die Griekse platteland tot by Athene. Besoek sluit in:

1.      Kavala en 'n besoek aan dieselfde hawe waar Paulus met sy eerste besoek aan  Griekeland  geland het om Filippi te bereik.
2.      Filippi (Hand 16:9)
3.      Via Ignatia antieke pad, die ruines waar Paulus in die tronk gevange gehou is.
4.      Lydia se woning – die eerste Christen vrou in Europa (Hand 16:14)
5.      Thessaloniki.
6.      Veria (Beréa van die Nuwe Testament)
7.      Kalambaka waar ons die VARLAAM en St. Stefanus Meteora kloosters, geleë bo-op imposante massiewe rotse, besoek.
8.      Larissa, Lamia en Trikala tot by Delphi
9.      In Delphi besoek ons die museum met die beroemde items, sommige dateer terug na die tyd van Paulus. Ons besoek ook die Tempel van Apollo, waar Paulus sy luisteraars geleer hat van die ‘Lewende God’.
10.  Die klooster van St Lukas met sy beroemde goue mosaikwerk

Dae 7 tot 9 gaan ons tuis in Athene en verken die omliggende omgewing. Hoogtepunte sluit in:
1.      Oorsigtelike stadstoer en  besoek o.a. die beroemde Nuwe Acropolis Museum – sowat 15 000 m² in omvang. Atene – eens die tuiste van Sokrates en Plato.
2.      Korinte.
3.      Vrye tyd in Plaka (Athene) – stap tussen vriendelike winkeltjies en geniet ‘n koppie koffie by een van die talle straatkaffetjies

Ons is al 'n week van die huis af weg en die laaste paar dae gaan jy net kan ontspan, lekker kuier, heerlik eet en vakansie hou. Ons gaan aan boord ons luukse Passasiersboot vir 'n 4 dae vaart tussen die Griekse eilande in die Egeïese see. Hoogtepunte:
1.      Mykonos
2.      Efese
3.      Patmos
4.      Kreta
5.      Santorini

Ons groet ons skip en die bemanning Maandag 16 September om die laaste dag in Athene te spandeer. Ons besoek die Akropolis met die Partenon asook Areopagus waar Paulus sy  beroemde preek gelewer oor die identiteit van die "die onbekende God" (Hand. 17:15-34). Dan gee ons jou die res van vandag bietjie vrye tyd in Athene vir laaste inkopies en luilekker kuier voor ons laatmiddag lughawe toe gaan vir ons terugvlug vannaand.

Terug in Suid Afrika Dinsdag 17 September.

Friday, November 16, 2012

Pelgrimsreise... Nodig of Oorbodig?

Duisende Christene gaan jaarliks op reise, toere en pelgrimstogte na lande van die Bybel.
 Waaroor gaan dit nou eintlik en wat ervaar gelowiges tydens hierdie reise? Is dit die geld werd?
So kom ons kyk bietjie na Pelgrim wees.  Blog saam en oordeel gerus self...

Jesus was gedurende sy leeftyd op aarde slegs 'n paar keer in Jerusalem – elke keer as pelgrim om een van die Joodse feeste by te woon. Psalm 84 – die Pelgrimslied – gaan juis oor die voorspoed en geluk wat pelgrimsgangers te wagte kan wees. So het die eerste gelowiges ook gereeld na Jerusalem op ‘n pelgrimstog gegaan. Na afloop van Paulus se derde sendingreis was hy so angstig om na Jerusalem en die Tempel te gaan dat niks hom kon stuit nie - nie eens 'n profesie oor sy lot daar nie (Hand 21:10-14). Volgens teoloog en pelgrimstogleier Theo Geyser was die doel van dié pelgrimstogte van vroëe Christene om simbolies te identifiseer met Jerusalem as plek van konfrontasie, lyding en ook oorwinning.

Duisende Moslem-pelgrims gaan jaarlik na Mekka. Baie neem hul uitgebreide families saam. Die ‘Hajj’ soos hierdie pelgrimstog bekendstaan is 'n demonstrasie van die solidariteit van Moslem gelowiges en hul toewyding aan Allah. In die middel eeue het die kerk mense aangemoedig om pelgrimstogte na sekere Heilige plekke te onderneem. Die beginsel was dat hierdie pelgrimsgangers se toewyding hul geloof versterk en sodoende genesing (geestelike en fisies), vergifnes en reinheid te weeg bring. Ons moderne Christen kultuur en aanbiddingsmetodes is soms arm aan pelgrim wees. Stil aanbidding, meditasie, afsondering, om te volg, is vir baie moderne gelowiges vreemd en selfs vreesaanjaende konsepte.
Maar iets gebeur tog met mense wat hierdie eeu-oue beginsel opneem. Daar kom ontmoetings en  gewaarwordings. Kreatiwiteit neem toe en mense kom vertel lewensveranderde stories. Ek glo  pelgrimstyd is afspraaktyd. ‘n Tyd vir nuut word en nuut dink.
Ons eerste keuse as dit by Pelgrimsreise kom:
Israel
Beloofde Land, aldus Heilige land, aldus Israel
Die verbond wat God met Abraham gesluit het is van uiterste belang – selfs vandag nog – omdat dit die basis is waarvolgens die Jode hul land eis, en ons Christengeloof se wortels lê in hiérdie stuk aarde. Die ‘Heilige Land’ strek vanaf die Egiptiese grens tot by Sirië en vanaf die Mediterreense kus tot by die Oostelike kant van die Jordaan Vallei en die Dooie See.
Na 'n besoek aan Israel is daar oorweldigende beelde wat in jou gedagtes bly talm. Hoe beskryf 'n mens die oomblikke by die Klaagmuur in Jerusalem as jy tussen Ortodokse Jode staan wat, gesig teen die muur, hulle gebede hardop voor Jahweh prewel. Hul toewyding en opregtheid is aangrypend, maar meer oorweldigend is die wete dat jy nie 'n gebedsboek of 'n briefie in die muur nodig het om met die Mesias - wat nie vêr van hier gekruisig is -  te praat nie!
Hoe beskryf jy die atmosfeer in die Tuin van Getsémané waar olyfbome uit Jesus se tyd stil getuies is van gebeure wat 2000 jr. gelede hier afgespeel het. Jy kan nie anders as om Jesus te hoor bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan...” En jy besef dat geen angs of vrees wat jy al ooit ervaar het naby hierdie groot offer kan kom nie.
Jy kyk van hier na die Tempelberg (Berg Moria) en hoor vêrlangs hoe Jesus oor Jerusalem geween het. (Luk. 19:41) Dieselfde berg waar Abraham vir Isak gebring het om sy enigste seun te offer (Gen. 22), dieselfde plek waar Salomo die eerste Tempel gebou het, met die deel van die tweede Tempel waar Jesus gestaan het toe Hy deur die Satan versoek is, vandag steeds in plek. (Matt. 4:5)
So gaan jy deur Israel. Wanneer jy in dieselfde sinagoge staan waar Jesus in Kapernaum geleer het, die Ein Gedi oase sien waarheen Dawid vir Absalom gevlug het en Psalms oor waterstrome geskryf het, en wanneer die enjins afgeskakel word tydens 'n bootvaart op die see van Galilea, kom daar 'n stilte - en beleef jy 'n Teenwoordigheid wat geen woorde kan beskryf nie. Dalk kan jy dieselfde ervarings in jou binnekamer of met 'n stappie langs die strand ervaar. Dalk. Maar om op dieselfde waters te wees waarop Jesus gestap het en die storm stilgemaak het,  maak dat geloof 'n heel nuwe betekenis vir jou kry.
volgende blog: Jordanië... Hou die spasie dop!

Wednesday, September 26, 2012

Opwindende toer deur die Bybellande vir tieners en jong-volwassenes: 
Israel, Jordanië en Egipte
 Jeug Toer
9 - 19 Desember 2012

Hierdie toer is gemik op jongmense – tieners en jong volwassenes – maar natuurlik ook enige iemand wat nog jonk van gees is en genoeg stamina het!

Ons gaan o.a.  in Jesus se voetspore stap deur Galilea, Jerusalem se  ondergrondse tonnels verken, Bar Mitzvahs by die Klaagmuur beleef, Die Via Dolorosa en ou stadsmure stap en ons Christen geloof se wortels ontdek. Maar ons gaan ook groot pret by die Dooie See hê, Snorkel in die Rooi See, kamele ry in Jordanië, in 'n Bedoeïenkamp slaap, die antieke stad Petra verken, deur die Sinai woestyn reis en in Egipte by die Groot Piramides van Giza en die Sfinks 'n draai maak!
Spesiale Toerprys: R26 600 p/p wat deel
Vir besprekings voor of op 10 Oktober 2012.
Prys kan dalk daarna verhoog afhangende van vliegtariewe so gou spring as jy wil saamgaan!