Wednesday, December 14, 2011

Die Stad van Dawid.
Sowat 3000 jaar gelede het die jong Koning Dawid ‘n stad by die Jebusiete oorgeneem en dit sy hoofstad en tuiste gemaak. Jerusalem. Die stad het reeds beskik oor ‘n gevorderde water voorsieningssisteem wat ontspring het uit die Gihon fontein. A.g.v. die ligging bo op ‘n heuwel en omring deur valleie, was die stad ook maklik om te verdedig.
Ons lees in 2 Samuel 5:7-9 “Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem; dit is die stad van Dawid.” “En Dawid het in die bergvesting gaan woon en dit die stad van Dawid genoem.” Hierdie stad wat later bekend geword het as die Heilige stad, is deur die eeue menigmaal verwoes en weer herbou. Met tye tot op die grond afgebreek, verwoes en verbrand, maar telkemale weer herbou - groter en sterker. En diep onder die rommel is geheimenisse en bewysstukke vasgevang wat vandag deur argeoloë opgegrawe en as bewysstukke onthul kan word.
Sowat 150 jaar gelede het argeoloë die eerste ontdekkings van die antieke stad gemaak en vandag word die gebied geleë Suid Wes van die hedendaagse Ou stadsmure net buite die Mispoort met reg weer genoem ‘Die stad van Dawid’. Op hierdie presiese plek is Jerusalem gebore.
Koning Salomo het later die “Stad van Dawid” uitgebou en o.a. die Eerste Tempel op die berg Moria gebou soos God dit aan Dawid beveel het. (2 Kron 3:1) Die tradisionele plek waar Abraham Isak moes offer. (Gen 22:2)
Die hedendaagse stad van Dawid is die historiese area van o.a Dawid se paleis met die Kidron vallei na die Ooste. Dit is werklik die kern van Jerusalem se ontstaan met ontdekkings wat insluit seëls (Bulla’s) met name van vername persone uit die eerste Tempel periode, antieke toilette soos deur konings en baie ryk huisgesinne gebruik, en selfs ‘n goue klokkie soos die wat aan die Hoë Priester se kleed was (Ex. 28:33-35) Aantrekkings sluit ook in Hiskia se leikanaal waardeur besoekers kan stap, die oorblyfsels van die Siloambad waar Jesus die blinde man genees het en die ondergrondse tonnels waar mens plek plek langs die tweede Tempel fondasiestene kan stap.
‘n Besoek aan die “Stad van Dawid” beteken ‘n besoek aan die geografiese kern van die Joodse volk. Dawid en Salomo het hier regeer en die profete Jesaja en Jeremia het hul ewigheids woorde hier gespreek. En vandag kan ons verwonderd hier rond wandel en onthou.