Tuesday, June 14, 2011

Die aand na sy besoek aan die Yad Vashem, 17 Mei 2011, het Koos die volgende gedig geskryf:

ek het vandag
'n jood geword
in die museum
dit was my seun
hy was klein
so tien
en ek kon sien
hy’s bang
sy oë was groot
ek was al dood
sy handjies in die lug
terwyl hy vir 'n nazi vlug
my dogtertjie was weg
haar longe en haar niere
was êrens in 'n klas
laboratorium van die adelras
op 'n ander plek
het ek later weer
wat oor was van my seun
bespeur
verweer
en seer
en uitgeteer
ek het vandag
'n jood geword
kerkvaders
het ek afgesweer
augustinus
en 'n pous
vir 'n oomblik
het ek probeer
met genade dink
maar ek kon geen
versagting vind
my kind
my kind
so maer
so vuil
hy huil
ek het vandag
'n jood geword

- koos van der merwe -






Hierdie fotos is deur Anne-mari Nagtegaal geneem gedurende ons toer - Mei 2011

Wednesday, June 8, 2011

Memoires

16 - 26 Mei 2011 - Israel en Jordanië saam met Dr Koos van der Merwe.
Terug na 'n reis deur die Bybellande ervaar mens gemengde gevoelens. Die hardheid van sommige landskappe in skrille kontras met vooruitgang en nuwe lewe wat die moderne staat Israel bied, hou aan om jou op onverwagse oomblike by te val.
Ons toer saam met Koos van der Merwe was in alle opsigte meer as wat ons kon droom voor. Die dinamika van 'n besonderse groep reisigers - die insig, wysheid en toewyding van ons bekwame geestelike leier - die land met sy magiese verwagtinge en borrelende energie  - saam met die nabyheid van die Heilige Gees deurentyd - was wenkombinasies !
Daar is nie benoeg plek op hierdie blad om al die oomblike vas te vat nie. Al word 'n toer hoe goed deurdink en beplan kan die verskuilde seëninge wat elke dag se besoeke inhou nooit voorsien word nie!         'n Paar persoonlike hoogtepunte vir my: 
  • Die koor "Afrika-Amerikaanse" stemme wat spontaan by die tuingraf "We are standing on Holy ground" in die agtergrong begin sing het terwyl ons groep Nagmaal gebruik.
  • Die intense empatie met God se volk as jy die verskrikking en smart ervaar met besoek aan die Yad Vashem Holocaust museum - Jerusalem.
  • Die opwinding, eerlikheid en toewyding van Jode by die Klaagmuur - en as bonus die vrolike groep Bar-Mitzvah vierders met hul ramshorings, balonne en danse!
  • Om te staan waar Moses gestaan het toe God die beloofde land vir hom gewys het - met Koos se lied "Dit is verby" nog in my gedagtes.......
  • Om elke dag te begin met Koos se leiding, insig en lering. En baie spesiaal - toe hy by Tabgha gedemonstreer het hoe dit moontlik was vir Jesus om met duisende te kon praat sonder klankversterking !
  • Bootvaart op die See van Galilea... om net te wees, te sien, te weet... Jesus was hier.
Ons toer was ook gekenmerk deur baie lag - veral die jolige agterbankers op die bus :) - baie "shopping" danksy Lea se geduld - heerlike kuiers rondom Midde-Oosterse geregte - die groot wedywer oor wie die beste foto kan neem - laat aand nagte in Jerusalem se strate - en lewenslange vriendskappe wat op hierdie spesiale toer gesmee is !
Ek verlang al weer terug....................

Yolandi
Beloofde land soos Moses dit gesien het in die agtergrond

Terugvoer van ons Toerlede


Ons het nie noodwendig gegaan om vakansie te hou nie, maar om o.a. te stap op die “Via Dolarosa” en Israel te beleef. Ons het veel meer as dit kon ervaar.
Vir my sal die volgende my by bly:
* Die opening, gedigte en sang van Dr. van der Merwe
* Die klank van ander groepe se sang by die verskillende besoekpunte
* Die besoek aan die graf en die gebruik van die Nagmaal
* Dr. van der Merwe wat ons kon lei by verskillende  besoekpunte soos die Tuin van Getsemane, Berg van die Saligsprekinge, ens, ens, Ook die geleentheid tot stilgebed.
Ek persoonlik hou nie daarvan om emosioneel te raak nie maar die trane het by verskeie geleenthede net gevloei
* Dat mens met ‘n groep kon wees wat hoofsaaklik Afrikaans gepraat het
* Seker die eerste toer wat ek onderneem het waar daar geen ongelukkigheid by die lede ontstaan het nie
* Die wyse waarop julle alles georganiseer het
So kan ek aanhou en aanhou.  Baie, baie dankie vir ‘n wonderlike belewenis en onvergeetlike toer!
Hans en Annatjie Botha
Windhoek
-------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Ek weet nie waar om te begin om dankie te se nie. Die toer het aan al my verwagtinge voldoen, dit was werklik n geestelike reis en n sielsverreikende ervaring wat my altyd sal bybly.(Geld kan dit nie koop nie)   Julle het met die opstel van die leer regtig gesorg dat ons toerlede alles moes weet wat nodig was sonder om met te veel inligting oorweldig te word. Koos se oggendoordenkings was vir my een van die hoogtepunte, ek dink beslis dat die regte toerleier baie waarde toevoeg tot enige toer, en veral op so n pelgrimstoer.  So jy, Org en Koos vorm die regte driemanskap.  Dankie vir jou visie in hierdie verband, net jammer dat dit nie vir Koos prakties sal wees om al jou toere te lei nie!

Martie Buys
Pretoria

Hoekom 'n reis na Israel en ander Bybellande?





'n Reis na die Bybellande is afspraaktyd. Gekoopte tyd. Soos alle ander reise gaan jy om nuwe ervarings mee te maak, plekke te sien, jou sintuie te voed. Maar Bybellandreise hou ander verwagtinge in. Hierdie reise sal jou by besondere plekke bring - waar Hy vir jou wag.

Neem byvoorbeeld Jerusalem. Daar is geen stad op aarde soos Jerusalem nie. Hier ervaar 'n mens die religieuse verlange van Jode, Moslems en Christene gelyk. Hierdie stad vertel van Salomo se wysheid, maar ook van bloed wat soos reenwater in die straatvore loop.

Eers as jy daar was, kan jy begin om dit te verstaan. Die Joodse liefdesverhouding met hierdie Heilige Stad word eeue al bedreig deur volkere soos die Egiptenare, Assiriers, Babiloniers, Romeine, Moslem Arabiere, Middeleeuse krygtogte, die Ottoman ryk, die Britse ryk. In Israel raak jy bewus van geskiedkundige wonderwerke, beloftes en Geloftes. Van profesiee en van God se verbond met Sy volk. Jy raak bewus van die 'groter prentjie', maar word ook gekonfronteer deur jou eie vasgelegde ides, voorkeure en vooroordele.