Friday, November 16, 2012

Pelgrimsreise... Nodig of Oorbodig?

Duisende Christene gaan jaarliks op reise, toere en pelgrimstogte na lande van die Bybel.
 Waaroor gaan dit nou eintlik en wat ervaar gelowiges tydens hierdie reise? Is dit die geld werd?
So kom ons kyk bietjie na Pelgrim wees.  Blog saam en oordeel gerus self...

Jesus was gedurende sy leeftyd op aarde slegs 'n paar keer in Jerusalem – elke keer as pelgrim om een van die Joodse feeste by te woon. Psalm 84 – die Pelgrimslied – gaan juis oor die voorspoed en geluk wat pelgrimsgangers te wagte kan wees. So het die eerste gelowiges ook gereeld na Jerusalem op ‘n pelgrimstog gegaan. Na afloop van Paulus se derde sendingreis was hy so angstig om na Jerusalem en die Tempel te gaan dat niks hom kon stuit nie - nie eens 'n profesie oor sy lot daar nie (Hand 21:10-14). Volgens teoloog en pelgrimstogleier Theo Geyser was die doel van dié pelgrimstogte van vroëe Christene om simbolies te identifiseer met Jerusalem as plek van konfrontasie, lyding en ook oorwinning.

Duisende Moslem-pelgrims gaan jaarlik na Mekka. Baie neem hul uitgebreide families saam. Die ‘Hajj’ soos hierdie pelgrimstog bekendstaan is 'n demonstrasie van die solidariteit van Moslem gelowiges en hul toewyding aan Allah. In die middel eeue het die kerk mense aangemoedig om pelgrimstogte na sekere Heilige plekke te onderneem. Die beginsel was dat hierdie pelgrimsgangers se toewyding hul geloof versterk en sodoende genesing (geestelike en fisies), vergifnes en reinheid te weeg bring. Ons moderne Christen kultuur en aanbiddingsmetodes is soms arm aan pelgrim wees. Stil aanbidding, meditasie, afsondering, om te volg, is vir baie moderne gelowiges vreemd en selfs vreesaanjaende konsepte.
Maar iets gebeur tog met mense wat hierdie eeu-oue beginsel opneem. Daar kom ontmoetings en  gewaarwordings. Kreatiwiteit neem toe en mense kom vertel lewensveranderde stories. Ek glo  pelgrimstyd is afspraaktyd. ‘n Tyd vir nuut word en nuut dink.
Ons eerste keuse as dit by Pelgrimsreise kom:
Israel
Beloofde Land, aldus Heilige land, aldus Israel
Die verbond wat God met Abraham gesluit het is van uiterste belang – selfs vandag nog – omdat dit die basis is waarvolgens die Jode hul land eis, en ons Christengeloof se wortels lê in hiérdie stuk aarde. Die ‘Heilige Land’ strek vanaf die Egiptiese grens tot by Sirië en vanaf die Mediterreense kus tot by die Oostelike kant van die Jordaan Vallei en die Dooie See.
Na 'n besoek aan Israel is daar oorweldigende beelde wat in jou gedagtes bly talm. Hoe beskryf 'n mens die oomblikke by die Klaagmuur in Jerusalem as jy tussen Ortodokse Jode staan wat, gesig teen die muur, hulle gebede hardop voor Jahweh prewel. Hul toewyding en opregtheid is aangrypend, maar meer oorweldigend is die wete dat jy nie 'n gebedsboek of 'n briefie in die muur nodig het om met die Mesias - wat nie vêr van hier gekruisig is -  te praat nie!
Hoe beskryf jy die atmosfeer in die Tuin van Getsémané waar olyfbome uit Jesus se tyd stil getuies is van gebeure wat 2000 jr. gelede hier afgespeel het. Jy kan nie anders as om Jesus te hoor bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan...” En jy besef dat geen angs of vrees wat jy al ooit ervaar het naby hierdie groot offer kan kom nie.
Jy kyk van hier na die Tempelberg (Berg Moria) en hoor vêrlangs hoe Jesus oor Jerusalem geween het. (Luk. 19:41) Dieselfde berg waar Abraham vir Isak gebring het om sy enigste seun te offer (Gen. 22), dieselfde plek waar Salomo die eerste Tempel gebou het, met die deel van die tweede Tempel waar Jesus gestaan het toe Hy deur die Satan versoek is, vandag steeds in plek. (Matt. 4:5)
So gaan jy deur Israel. Wanneer jy in dieselfde sinagoge staan waar Jesus in Kapernaum geleer het, die Ein Gedi oase sien waarheen Dawid vir Absalom gevlug het en Psalms oor waterstrome geskryf het, en wanneer die enjins afgeskakel word tydens 'n bootvaart op die see van Galilea, kom daar 'n stilte - en beleef jy 'n Teenwoordigheid wat geen woorde kan beskryf nie. Dalk kan jy dieselfde ervarings in jou binnekamer of met 'n stappie langs die strand ervaar. Dalk. Maar om op dieselfde waters te wees waarop Jesus gestap het en die storm stilgemaak het,  maak dat geloof 'n heel nuwe betekenis vir jou kry.
volgende blog: Jordanië... Hou die spasie dop!

Wednesday, September 26, 2012

Opwindende toer deur die Bybellande vir tieners en jong-volwassenes: 
Israel, Jordanië en Egipte
 Jeug Toer
9 - 19 Desember 2012

Hierdie toer is gemik op jongmense – tieners en jong volwassenes – maar natuurlik ook enige iemand wat nog jonk van gees is en genoeg stamina het!

Ons gaan o.a.  in Jesus se voetspore stap deur Galilea, Jerusalem se  ondergrondse tonnels verken, Bar Mitzvahs by die Klaagmuur beleef, Die Via Dolorosa en ou stadsmure stap en ons Christen geloof se wortels ontdek. Maar ons gaan ook groot pret by die Dooie See hê, Snorkel in die Rooi See, kamele ry in Jordanië, in 'n Bedoeïenkamp slaap, die antieke stad Petra verken, deur die Sinai woestyn reis en in Egipte by die Groot Piramides van Giza en die Sfinks 'n draai maak!
Spesiale Toerprys: R26 600 p/p wat deel
Vir besprekings voor of op 10 Oktober 2012.
Prys kan dalk daarna verhoog afhangende van vliegtariewe so gou spring as jy wil saamgaan!

Tuesday, September 25, 2012

Succot/ Loofhuttefees en Jesus.

Loofhutte fees / Succot

Paulus sê in Kolossense 2:16-17 dat die Joodse feeste en vieringe slegs ‘n skaduwee is van dit wat nog gaan kom in Jesus Christus. Die enigste Joodse fees wat vandag nog deur sommige Christene herdenk word, is Sukkot - Fees van Tabernakels of die Loofhutte fees:

Sukkot is 'n week lange fees ter herdenking van die 40-jaar reis van die Israeliete in die woestyn. Dit is een van die drie groot pelgrimstog-feeste aangeteken in die Bybel. Van alle Joodse mans word verlang om voor die aangesig van die Here te verskyn - in die tempel in Jerusalem. Die woord Sukkot beteken "hutte." Gedurende hierdie vakansie
Bou sommige Jode steeds tydelike skuilingsen woon dan vir die week daarin – dit herinner hulle aan die tyd dat hul Joodse voorvaders so gewoon het. Hierdie vreugdevolle viering is 'n herinnering van God se beskerming, voorsiening, en getrouheid.

Sukkot begin vyf dae na Yom Kippur, van die 15-21 dag van die Hebreeuse maand Tishri (September of Oktober).
Skrif Verwysing:
Die onderhouding van die Fees van Tabernakels is aangeteken in Eksodus 23:16, 34:22, Levitikus 23:34-43; Numeri 29:12-40, Deuteronomium 16:13-15, Esra 3:04 en Nehemia 8:13 -18.

Die Bybel en Succot:
Bybels het hierdie fees 2 betekenisse: eerstens landboukundig - Sukkot is Israel se "danksegging," 'n vreugdevolle oes fees die insameling van koring en wyn te vier. Tweedens as 'n historiese fees- die belangrikste kenmerk is die woon in tydelike skuilings of hutte.

Jesus en Sukkot:Gedurende Sukkot, het twee belangrike seremonies plaasgevind. Die Hebreeuse volk sou fakkels regoom die tempel hang wat simbolies is dat die Messias 'n lig vir die nasies sal wees. Dan het ‘n priester water uit die poel van Siloam gaan skep en na die tempel gedra waar dit langs die altaar uitgestort is in 'n silwer bak. Die priester roep dan tot die Here om hemelse water te voorsien in die vorm van reën in ruil vir hul aanbod.

Jesus het die Fees van Tabernakels bygewoon en sê hierdie wonderlike woorde op die laaste en grootste dag van die fees: "As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!  Hy wat in My glo, soos die skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. (Johannes 7:37-38 ) Die volgende oggend, terwyl die fakkels nog brand sê Jesus: "Ek is die lig van die wêreld. Wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê." (Johannes 8:12 )

Succot 2012
1 – 7 Oktober.
Loofhuttefees deur ICEJ (International Christian Embassy Jerusalem) aangebied:
30 September tot 4 Oktober 2012

Saturday, September 8, 2012

Opwindende toere vir 2013:
11 Dae Israel alleen - April & September 2013

12 Dae Israel & Jordanië saam met Koos van der Merwe
Mei/ Junie 2013

Egipte insluitend Nylvaart
Mei 2013

NUUT:
Ons volg Paulus op sy sendingreise - saam met Koos van der Merwe
Septemebr 2013

En

Ons gaan op 'n Pelgrimsreis saam met Theo Geyser na Taize & stap die Camino de Santiago.....

stuur 'n e-pos aan yolandi@groupstoisrael.co.za vir meer inligting


Sunday, February 19, 2012

Wonderlike Jordanië

Jordanië grens aan: Israel, Saudi Arabië, Iraq, Sirië en 'n stukkie van die Rooi See by die golf van Akaba
Hoe meer ek van Jordanië te wete kom, hoe meer staan ek verwonderd oor die skatte wat hierdie land inhou. Besef julle dat dit die area is waar Abraham en Lot gewoon het.....die oorblyfsels van Sodom en Gomorra is...Jakob met God by een nag by die Jabbokrivier geworstel het en waar Israel sy naam gekry het...Moses met die volk in die woestyn geswerf het en vanaf die berg Horeb die Beloofde land kon sien.....Elia in 'n vuurwa opgeneem is in die hemel...Johannes die Doper vir Jesus in die Jordaanrivier gedoop het!

Sodom en Gomorra
Abraham het vir Lot gesê om eerste te kies toe hulle besluit het om in verskillende rigtings te gaan. Lot het die vrugbare gedeeltes op die vlaktes aan die Oostekant van die Jordaanrivier gekies net noord van die Dooie See. Dit is vandag nog van die vrugbaarste gedeeltes in die hele Midde-Ooste.
Die ruïnes en opgrawings by die antieke stede Bab edh-Dhra en Numeira word vandag algemeen beskou as die oorblyfsels van die Ou-Testamentiese Sodom en Gomorra. Daar is duidelike tekens van as en totale vernietiging.
Jesus het ook verwys na Lot se vrou toe hy na ongehoorsaamheid verwys het asook na Sodom toe Hy gepraat het van die oordeelsdag.




Roete na die Eksodus uit Egipte


Moses het opdrag by God gekry dat hy die gedeelte aan die noordekant van die Dooie See, die gebied van die Amoriete, mag bewoon. Hy het spesifiek opdrag gekry om die Edomiete, die nageslag van Essau en die Moabiete en Amoniete wat die nageslag van Lot was en ook bloedverwante, nie aan te val nie. Die Edomiete was gevestig in die area naby Petra. Sy versoek aan die koning van die Edomiete om deur hulle land te trek en op die Koningspad te bly, is nie toegestaan nie. Die hoofroete daardie tyd na Mesopotamië en Damaskus. (Lees Numerie 20:17-21). Om konflik te vermy het hy dieper in die woestyn ingetrek met 'n ompad.

Aaron se graf
As gevolg van Moses en Aäron se ongeloof by die waters van Mériba, het die Here gesê: “ Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie”. Num. 20:12.
Ons het 'n pragtige uitsig oor die Berg Hor met die duidelike wit baken van Aäron se graf – volgens oorlewering die plek waar Moses Aäron se klere aan die se seun, Eleásar, moes gee toe hy daar dood is. Die volk het vir 30 dae oor Aäron se dood gerou.
Aaron sal veral onthou word oor die pragtige priesterlike seën wat die Here deur Moses vir hom gegee het waarmee hy die kinders van Israel mee moet seën:
“Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal Sy aangesig oor jou verhef en jou vrede gee. So moet julle dan My Naam op die kinders van Israel lê; en Ek sal hulle seën”. Numerie 6:24-27

Berg Nebo
God het vir Moses gesê in Deut. 34:4, “Dit is die land wat Ek aan Abraham, Izak en Jakob met 'n eed beloof het met die woorde, aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie”.
Moses is hier dood nadat hy die pragtige uitsig oor die Beloofde Land gesien het op die ouderdom van 120 jaar. Die Bybel sê dat hy nog goed kon sien en nog sterk was. Die Here het hom begrawe in die land Moab en niemand het tot vandag toe sy graf uitgeken nie.
Hierdie uitsig is 'n baie spesiale ervaring. Hartseer gemeng met verwagting. Op 'n mooi dag kan ons tot by Jerusalem sien.
Ook die kerkie wat daar gebou is en waar mens 'n kers kan opsteek, wees en bid, het besonderse betekenis vir Christene en Jode vandag.

Bethanie by die Jordaan
Baie naby aan die Allenby grenspos tussen Jordanië en Israel, net noord van die Dooie See, is Bethanie. Opgrawings bewys, en historici is redelik seker dat dit wel die plek is waar Johannes die doper vir Jesus gedoop het.
Baie insiggewend is dat dit ook die presiese plek is vanwaar die Here vir Elia opgeneem het in die Hemel met 'n vuurwa van perde. Die Jode glo vandag nog dat Elia sal terugkeer om die Mesias se koms aan te kondig. Op hierdie plek het Johannes die Doper dan ook vir Jesus gedoop! Vir Christene baie insiggewend dat "Die een die Mesias vooruitgegaan het", juis hiér sy werk gedoen het!

Saturday, February 18, 2012

Toer saam met Koos van der Merwe

Israel - in voet, in hart, in siel.

5-17 Mei 2012

12 Nagte / 13 Dae
Toerprys: R24 500 (per persoon wat deel)


"Ons reis om prentjies vir die siel te gaan kry. Om op paaie te loop waar ewige woorde gebore is. Sodat ons kan terugkom en nooit sal vergeet nie." Koos van der Merwe

Hoogtepunte:


Sesarea - Berg Karmel - Kana - Nasaret - Berg Tabor - Jordaanrivier - See vanGalilea - Kapernaum - Tabgha - Berg van Saligspreking - Sesarea Filippi - Jerusalem - Yad Vashem - Israel Museum - Olyfberg - Getsémane - Via Dolorosa - Tuingraf - Ou Stadsmure - Klaagmuur - Sionsberg - Argeologiese Park - Oppersaal - Betlehem - Machne Yehuda mark - Qumran - Masada - Dooie See - Ein Gedi - Eilat - Timna - Aqaba - Petra - Jeep Safari in Wadi Musa - Middagete in Bedoeiene tent - Megiddo / Armagedon - Tel Aviv

Ingesluit:
Twee etes per dag - Akkommodasie in eersteklas hotelle - Alle besienswaardighede soos aangedui - Luukse lugverkoelde busvervoer - Retoer vliegkaartjies vanaf Johannesburg & binnelandse vlug tussen Kairo en Tel Aviv- Voltydse Afrikaanse Israel & Beyond verteenwoordiger asook 'n Engelse lokale gids - Lughawebelasting & brandstofheffing - Alle kruierslone & fooitjies.



Dr. Koos van der Merwe – Digter, liedjieskrywer, rubriekskrywer en leraar.....
Vra enige iemand in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf wie Koos van der Merwe is, en jy sal vinnig hoor “die skrywer van Houtkruis!”. Dié bekende digter, sanger en liedjieskrywer het reeds dekades gelede as lid van die duo Prophet, bekendheid verwerf. Vandag is Koos ook een van die tydskrif Sarie se gewildste rubriekskrywers en behartig hy “Laaste sê”. Saam met sy vrou en kinders Barbara, Ivan en Claudie woon hy in George waar hy tans hoofleraar by Edengemeente is.

Friday, February 17, 2012

Toer saam met Willem Botha

Die Bybel - Lewend en Relevant.

'n Toer na Israel & Petra saam met Willem Botha.

28 Mei - 7 Junie 2012

10 Nagte / 11 Dae
Toerprys: R23 000 (per persoon wat deel)


Hoogtepunte: Jerusalem - Yad Vashem - Ein Karem - Betlehem - Herdersvelde - Olyfberg - Getsemane - Bethesda - Via Dolorosa - Tuingraf - Golgota - Klaagmuur & Joodse kwartiere - Ou Stadsmure - Sionsberg - Oppersaal - Graf van Dawid - Ou Stad - Dooi See - Masada - Ein Gedi - Qumran - Eilat - Jordanië - Petra - Berg Nebo - Tiberias - Kapernaum - Berg van Saligspreking - Tabgha - Bootrit op die See van Galilea - Sesarea Filipi - Jordaanrivier - Berg Tabor - Nasaret - Megiddo/ Armagéddon - Karmelgebergte - Sesarea - Jaffa - Tel Aviv


Ingesluit:
Twee etes per dag - Akkommodasie in eersteklas hotelle - Alle besienswaardighede soos aangedui - Luukse lugverkoelde busvervoer - Retoer vliegkaartjies vanaf Johannesburg - Voltydse Afrikaanse Israel & Beyond verteenwoordiger asook 'n Engelse lokale gids - Lughawebelasting & brandstofheffing - Alle kruierslone & fooitjies.


Wie is Willem Botha...
Die hoof van die
DIDASKO BYBELSKOOL, Willem Botha, is ‘n gebore Vrystater wat ‘n draai gemaak het in Bloemfontein, Pretoria, Johannesburg en Stellenbosch voordat hy en sy gesin hulle in 1999 op George gevestig het. Willem het aan die Vrystaatse Universiteit ‘n BA-graad en Hoër Onderwysdiploma behaal, maar hoewel onderwys altyd sy passie was, het hy eers 10 jaar as omroeper/regisseur agter die mikrofoon deurgebring by die destydse Afrikaanse Radiodiens van die SAUK, in Bloemfontein en Johannesburg.
Van 1988 tot 1991 het hy weer voltyds in die Teologie gaan studeer en die Diploma in Teologie verwerf aan die Aucklandparkse Teologiese Seminarium, wat die Teologie-fakulteit van die Johannesburgse Universiteit is. Na verdere studie behaal hy die B.Phil-graad in Bybelvaardighede (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy aan die einde van 2006 ook sy meestersgraad (M.Phil) in Bybeluitleg (Hermeneutiek) voltooi.
Willem het sewe jaar se gemeentelike bedieningservaring opgedoen as leraar in die AGS Stellenbosch-gemeente. Dit was egter by prediking, lering en die aanbied van Bybelskole waar sy passie gelê het – met die gevolg dat hy na die gesin se vestiging in George begin het met die aanbied van lesings oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe. Dit was gou duidelik dat daar ‘n groot behoefte aan toerusting onder lidmate van alle gemeentes en denominasies bestaan het, en in 2000 open DIDASKO sy deure met Willem as voltydse dosent. Willem se deeglike navorsing en diepte-kennis van sy onderwerp asook ‘n besondere gawe om die Woord oop te breek en toeganklik te maak, rus nie net gelowiges toe vir bediening nie, maar verdiep ook hul belewenis van God op persoonlike vlak.

Willem is getroud met Mandi, self ‘n oud-Kovsie en tans redakteur van die plaaslike koerant, wat hom gaan vergesel op hierdie toer.