Sunday, February 19, 2012

Wonderlike Jordanië

Jordanië grens aan: Israel, Saudi Arabië, Iraq, Sirië en 'n stukkie van die Rooi See by die golf van Akaba
Hoe meer ek van Jordanië te wete kom, hoe meer staan ek verwonderd oor die skatte wat hierdie land inhou. Besef julle dat dit die area is waar Abraham en Lot gewoon het.....die oorblyfsels van Sodom en Gomorra is...Jakob met God by een nag by die Jabbokrivier geworstel het en waar Israel sy naam gekry het...Moses met die volk in die woestyn geswerf het en vanaf die berg Horeb die Beloofde land kon sien.....Elia in 'n vuurwa opgeneem is in die hemel...Johannes die Doper vir Jesus in die Jordaanrivier gedoop het!

Sodom en Gomorra
Abraham het vir Lot gesê om eerste te kies toe hulle besluit het om in verskillende rigtings te gaan. Lot het die vrugbare gedeeltes op die vlaktes aan die Oostekant van die Jordaanrivier gekies net noord van die Dooie See. Dit is vandag nog van die vrugbaarste gedeeltes in die hele Midde-Ooste.
Die ruïnes en opgrawings by die antieke stede Bab edh-Dhra en Numeira word vandag algemeen beskou as die oorblyfsels van die Ou-Testamentiese Sodom en Gomorra. Daar is duidelike tekens van as en totale vernietiging.
Jesus het ook verwys na Lot se vrou toe hy na ongehoorsaamheid verwys het asook na Sodom toe Hy gepraat het van die oordeelsdag.




Roete na die Eksodus uit Egipte


Moses het opdrag by God gekry dat hy die gedeelte aan die noordekant van die Dooie See, die gebied van die Amoriete, mag bewoon. Hy het spesifiek opdrag gekry om die Edomiete, die nageslag van Essau en die Moabiete en Amoniete wat die nageslag van Lot was en ook bloedverwante, nie aan te val nie. Die Edomiete was gevestig in die area naby Petra. Sy versoek aan die koning van die Edomiete om deur hulle land te trek en op die Koningspad te bly, is nie toegestaan nie. Die hoofroete daardie tyd na Mesopotamië en Damaskus. (Lees Numerie 20:17-21). Om konflik te vermy het hy dieper in die woestyn ingetrek met 'n ompad.

Aaron se graf
As gevolg van Moses en Aäron se ongeloof by die waters van Mériba, het die Here gesê: “ Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie”. Num. 20:12.
Ons het 'n pragtige uitsig oor die Berg Hor met die duidelike wit baken van Aäron se graf – volgens oorlewering die plek waar Moses Aäron se klere aan die se seun, Eleásar, moes gee toe hy daar dood is. Die volk het vir 30 dae oor Aäron se dood gerou.
Aaron sal veral onthou word oor die pragtige priesterlike seën wat die Here deur Moses vir hom gegee het waarmee hy die kinders van Israel mee moet seën:
“Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal Sy aangesig oor jou verhef en jou vrede gee. So moet julle dan My Naam op die kinders van Israel lê; en Ek sal hulle seën”. Numerie 6:24-27

Berg Nebo
God het vir Moses gesê in Deut. 34:4, “Dit is die land wat Ek aan Abraham, Izak en Jakob met 'n eed beloof het met die woorde, aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie”.
Moses is hier dood nadat hy die pragtige uitsig oor die Beloofde Land gesien het op die ouderdom van 120 jaar. Die Bybel sê dat hy nog goed kon sien en nog sterk was. Die Here het hom begrawe in die land Moab en niemand het tot vandag toe sy graf uitgeken nie.
Hierdie uitsig is 'n baie spesiale ervaring. Hartseer gemeng met verwagting. Op 'n mooi dag kan ons tot by Jerusalem sien.
Ook die kerkie wat daar gebou is en waar mens 'n kers kan opsteek, wees en bid, het besonderse betekenis vir Christene en Jode vandag.

Bethanie by die Jordaan
Baie naby aan die Allenby grenspos tussen Jordanië en Israel, net noord van die Dooie See, is Bethanie. Opgrawings bewys, en historici is redelik seker dat dit wel die plek is waar Johannes die doper vir Jesus gedoop het.
Baie insiggewend is dat dit ook die presiese plek is vanwaar die Here vir Elia opgeneem het in die Hemel met 'n vuurwa van perde. Die Jode glo vandag nog dat Elia sal terugkeer om die Mesias se koms aan te kondig. Op hierdie plek het Johannes die Doper dan ook vir Jesus gedoop! Vir Christene baie insiggewend dat "Die een die Mesias vooruitgegaan het", juis hiér sy werk gedoen het!

No comments:

Post a Comment