Wednesday, April 20, 2011

Petra





Tussen die betowerende berglandskappe van Jordanië, lê die unike stad Petra. Die naam beteken “Rots” volgens die Griekse vertaling van die Hebreeuse naam ‘Sela’. Dit word vermeld in die Bybel as die Hoofstad van die Koninkryk van Edom - tradisioneel bewoon deur bedoeïen gemeenskappe.


Ons stap die sowat 3 km vanaf die ingang tot by die stad deur die mees asemrowende rotsformasies. Die eerste 2 km stap ons verby verskeie grafkelders, die Djin blokke en die Obelisk. Die laaste deel staan bekend as die ‘Siq’. Dit is ‘n nou kloof van ongeveer 1km lank met sekere areas net 2 m wyd. Tussen die asemrowende sandsteenformasies golf die paadjie – plek-plek met oorspronklike kobbelstene – tot die bekende “Skatkamer” skielik reg voor jou te voorskyn kom!


In die somer van 1812 reis ‘n jong 28 jarige Switserse verkenner, vermom as Bedoeïen, vanaf Aleppo na Caïro. Sy naam was Johann Ludwig Burckhardt, ‘n kenner van Arabies en Islamitiese regte, met ‘n missie om die oorsprong van die Nylrivier in Afrika te gaan verken. Hy word egter nie onthou vir sy Afrika ekspedisies nie, maar as die man wat die Antieke stad Petra ontdek het. Vermom as “Sheikh Ibrahim” kom die jong avonturier te hoor van ‘n versteekte stad se ruïnes iewers tussen die Wadi Musa gebergtes. Hy koop ‘n paar bedoeïn metgeselle om deur vir hul te vertel dat hy ‘n eed afgelê het om die grafkelder van Harun (Aaron se graf) te besoek. Op 22 Augustus 1812 stap Burckhardt deur die Siq – die eerste Europeër van ons tyd om so te doen – en ontdek die fabelagtige ruïnes van die Skatkamer van die Farao (Al-Khasneh). Hy was wel bekend met die Bybel en het goed besef dat hy heel moontlik die Nabataense hoofstad – Petra – ontdek het!