Friday, November 16, 2012

Pelgrimsreise... Nodig of Oorbodig?

Duisende Christene gaan jaarliks op reise, toere en pelgrimstogte na lande van die Bybel.
 Waaroor gaan dit nou eintlik en wat ervaar gelowiges tydens hierdie reise? Is dit die geld werd?
So kom ons kyk bietjie na Pelgrim wees.  Blog saam en oordeel gerus self...

Jesus was gedurende sy leeftyd op aarde slegs 'n paar keer in Jerusalem – elke keer as pelgrim om een van die Joodse feeste by te woon. Psalm 84 – die Pelgrimslied – gaan juis oor die voorspoed en geluk wat pelgrimsgangers te wagte kan wees. So het die eerste gelowiges ook gereeld na Jerusalem op ‘n pelgrimstog gegaan. Na afloop van Paulus se derde sendingreis was hy so angstig om na Jerusalem en die Tempel te gaan dat niks hom kon stuit nie - nie eens 'n profesie oor sy lot daar nie (Hand 21:10-14). Volgens teoloog en pelgrimstogleier Theo Geyser was die doel van dié pelgrimstogte van vroëe Christene om simbolies te identifiseer met Jerusalem as plek van konfrontasie, lyding en ook oorwinning.

Duisende Moslem-pelgrims gaan jaarlik na Mekka. Baie neem hul uitgebreide families saam. Die ‘Hajj’ soos hierdie pelgrimstog bekendstaan is 'n demonstrasie van die solidariteit van Moslem gelowiges en hul toewyding aan Allah. In die middel eeue het die kerk mense aangemoedig om pelgrimstogte na sekere Heilige plekke te onderneem. Die beginsel was dat hierdie pelgrimsgangers se toewyding hul geloof versterk en sodoende genesing (geestelike en fisies), vergifnes en reinheid te weeg bring. Ons moderne Christen kultuur en aanbiddingsmetodes is soms arm aan pelgrim wees. Stil aanbidding, meditasie, afsondering, om te volg, is vir baie moderne gelowiges vreemd en selfs vreesaanjaende konsepte.
Maar iets gebeur tog met mense wat hierdie eeu-oue beginsel opneem. Daar kom ontmoetings en  gewaarwordings. Kreatiwiteit neem toe en mense kom vertel lewensveranderde stories. Ek glo  pelgrimstyd is afspraaktyd. ‘n Tyd vir nuut word en nuut dink.
Ons eerste keuse as dit by Pelgrimsreise kom:
Israel
Beloofde Land, aldus Heilige land, aldus Israel
Die verbond wat God met Abraham gesluit het is van uiterste belang – selfs vandag nog – omdat dit die basis is waarvolgens die Jode hul land eis, en ons Christengeloof se wortels lê in hiérdie stuk aarde. Die ‘Heilige Land’ strek vanaf die Egiptiese grens tot by Sirië en vanaf die Mediterreense kus tot by die Oostelike kant van die Jordaan Vallei en die Dooie See.
Na 'n besoek aan Israel is daar oorweldigende beelde wat in jou gedagtes bly talm. Hoe beskryf 'n mens die oomblikke by die Klaagmuur in Jerusalem as jy tussen Ortodokse Jode staan wat, gesig teen die muur, hulle gebede hardop voor Jahweh prewel. Hul toewyding en opregtheid is aangrypend, maar meer oorweldigend is die wete dat jy nie 'n gebedsboek of 'n briefie in die muur nodig het om met die Mesias - wat nie vêr van hier gekruisig is -  te praat nie!
Hoe beskryf jy die atmosfeer in die Tuin van Getsémané waar olyfbome uit Jesus se tyd stil getuies is van gebeure wat 2000 jr. gelede hier afgespeel het. Jy kan nie anders as om Jesus te hoor bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan...” En jy besef dat geen angs of vrees wat jy al ooit ervaar het naby hierdie groot offer kan kom nie.
Jy kyk van hier na die Tempelberg (Berg Moria) en hoor vêrlangs hoe Jesus oor Jerusalem geween het. (Luk. 19:41) Dieselfde berg waar Abraham vir Isak gebring het om sy enigste seun te offer (Gen. 22), dieselfde plek waar Salomo die eerste Tempel gebou het, met die deel van die tweede Tempel waar Jesus gestaan het toe Hy deur die Satan versoek is, vandag steeds in plek. (Matt. 4:5)
So gaan jy deur Israel. Wanneer jy in dieselfde sinagoge staan waar Jesus in Kapernaum geleer het, die Ein Gedi oase sien waarheen Dawid vir Absalom gevlug het en Psalms oor waterstrome geskryf het, en wanneer die enjins afgeskakel word tydens 'n bootvaart op die see van Galilea, kom daar 'n stilte - en beleef jy 'n Teenwoordigheid wat geen woorde kan beskryf nie. Dalk kan jy dieselfde ervarings in jou binnekamer of met 'n stappie langs die strand ervaar. Dalk. Maar om op dieselfde waters te wees waarop Jesus gestap het en die storm stilgemaak het,  maak dat geloof 'n heel nuwe betekenis vir jou kry.
volgende blog: Jordanië... Hou die spasie dop!